By geleentheid van die gevierde skrywer Karel Schoeman se 75ste verjaardag in Oktober 2014 publiseer Protea Boekhuis twee televisiedraaiboeke, wat, hoewel hulle geruime tyd gelede reeds geskryf is, nie voorheen gepubliseer is nie. In die voorwoord tot die twee draaiboeke meld Karel Schoeman dat die twee draaiboeke in 1985 ontstaan het, toe daar bewerkings van sy romans verfilm is. Die twee dramatekste sou miskien eerder as leestekste en nie as speeltekste nie beskou kon word, maar Schoeman sluit nie die moontlikheid van verfilming uit nie. Hy skryf verder: âDie betrokke manuskripte het onlangs aan die lig gekom nadat ek gemeen het dat dit lankal nie meer bestaan nie, en word nou gepubliseer soos hulle geskryf is, aangesien dit nie sinvol gelyk het om ná verloop van meer as ân kwarteeu nog daaraan te probeer verander of verbeter nie.â Die eerste van die twee tekste, âân Vrou wat alleen blyâ, speel op ân klein plattelandse dorpie af. Dit handel oor die raaiselagtige skietdood van ân geliefde dominee en oor die versteuring van verhoudings tussen mense wat mekaar reeds lank ken wanneer ân nuweling die gemeenskap binnekom. Die tweede teks, âHiér was huise, hiér ân padâ speel in 1908 af in en om ân hotelletjie aan die Suid-Kaapse kus. In hierdie draaiboek bevind ân aantal uiteenlopende karakters hulle toevallig en kortstondig in mekaar se geselskap. Sommige van die karakters reik huiwerig na mekaar uit, maar die verhoudings wat ontstaan, bly vervlietend.