In Skottel en spens word lekker resepte, stories en verse oor kosmaak saam geroer. Die boek is vir almal wat hou van lekker tradisionele Afrikaanse kos en meer daarvan wil weet. En ook van die meubels en ander gebruiksvoorwerpe wat deur die jare saam met die resepte ontwikkel het. Oor die grappies en amusante anekdotes wat met die jare ontstaan het, sal heerlik saamgelag word. Die boek is nie net gemik op die kosmaker van die huis nie, maar op al die huisgenote en hul vriende. Skottel en spens bied aan sy lesers 'n heerlike avontuur. Wie weet vandag nog hoeveel 'n knippie sout in Ouma se kookboek was en wat die verskil tussen 'n knypie en 'n grypie is? Waarvoor is 'n jammerlappie gebruik en waar kom die naam vandaan? Hoe lyk 'n oblietjiepan en wie het al Jan-in-die-sak, galopsop of skuinskoek en stadige intrap geproe? Beleef ook saam hoe digters en liedjieskrywers die alledaagse rondom lekker kos ervaar. 'n Verskeidenheid gedigte, volksversies en liedjies wat oor een of ander aspek van kosmaak handel is opgeneem. Tussendeur al hierdie heerlike en interessante dinge staan die resepte wat oor drie eeue deel van die Afrikaanse spyskaart geword het, sentraal.