Met Naelstring deurbreek die bekroonde dramaturg Pieter Fourie opnuut die grense van sy oeuvre. Sy tweeluik Faan se trein en Faan se stasie, sowel as Post Mortem, en talle van sy ander werke, speel in die kleindorpse en plaassfeer af. In 2001 bring hy Elke duim ’n koning by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op die planke, waarmee die klem verskuif van ontginning van die lewe na besinning en globalisering. Naelstring, vir die eerste keer in 2001 by die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom opgevoer, belig die problematiek van transformasie in ’n nuwe Suid-Afrika en die soms fanatieke eise van swart bemagtiging. In Naelstring weier ’n moeder om haar pasgebore baba se naelstring te knip. Die naelstring word veel meer as ’n biologiese realiteit. Die briljante, innoverende baba is egter nie bereid om dié absurde situasie gelate te aanvaar nie en neem sy gehoor op ’n reis van swart komedie en deernisvolle maar pynlike interaksie.