//Kabbo op die ysterspoor is waarskynlik die eerste gepubliseerde Afrikaanse dramateks waarin die kollig volledig op die Boesman val. Die hoofkarakter, //Kabbo, die dromer met die magiese vermoëns, is volgens die skrywer die argetipiese Boesman, een van die laaste van die Kalahari-Boesmans. Vir die volle duur van die drama moet //Kabbo vir sy agtervolgers wegkruip, soos sy voorsate so dikwels moes doen. Terwyl ander eietydse Suid-Afrikaanse stemme rondom hom opklink, besin //Kabbo oor die lotgevalle van sy mense, wat nie teen die yster van die ander bewoners van die land opgewasse was nie: “Yster! Dis daai wat die voormense nie verstaan het nie. ’n Man moet ’n ysterkop en ’n ysterhart hê om te bly regop staan tussen hierdie ander tweebene.”