Die trauma van die “has been” ontsnap niemand nie. Die liggaam bly die gewildste prooi van tyd. Vir die hoogste bome wat die meeste wind vang, is dit dikwels pynliker en hierdie mense se opstand daarteen is pateties en vernederend. In Jasmyn word ’n vervalle ou skoonheidsikoon, Beulah, genadeloos belig vanuit ’n ongewone invalshoek: as prooi en as begenadigde. Die verstand wat in haar vervalle liggaam gehuisves word, is egter nog naaldskerp. ’n Onverwagte erflating deur ’n eertydse miljardêrminnaar word die hoogtepunt en afloop van die drama. Beulah erf R40 miljoen, mits sy ’n minnaar werf wat ten minste 20 jaar haar junior is, ’n verjongingsprogram voltooi met riglyne rakende dieet, plastiese chirurgie, sielkundige berading, hormoonmanipulasie en nuut geskepte ikoonstatus. Laasgenoemde word moontlik gemaak deurdat die oorlede minnaar geld nalaat om ’n nuwe skoonheidseep, Beulah Jasmine, internasionaal vry te stel.